Ons leuse is: word jou beste self! Om leerders toe te rus en te help om hul beste self te word, neem Volkskool Orania die verantwoordelikheid om goeie waardes aan die leerders oor te dra, op die Christelike Afrikanergrondslag waarop ons gebou is. Ons is van mening dat die beste soort dissipline selfdissipline is, omdat dit van binne kom. Daarom is dit vir ons belangrik dat hierdie waardes nie net die ‘skool’ s’n is nie, maar elke leerder s’n sal word. Vir hierdie doel is in Februarie 2018, ‘n waarde-projek van stapel gestuur om 7 kardinale waardes op deelnemende, visuele en aktiewe manier by leerders in te skerp en hulle te oorreed om dit hul eie te maak. Die waardes is: geloof, gemeenskap, integriteit, selfstandigheid, uitnemendheid, volharding en vryheid.
Ons plaaslike argitek, mnr Christiaan van Zyl, het vir ons gehelp met die ontwerpe wat hierdie waardes versimboliseer, sodat dit sigbaar as 7 pilare in die skoolterrein geplaas kan word. Sewe maande in die jaar word ook geïdentifiseer waarin ‘n spesifieke waarde op verskeie maniere aandag sal geniet, gedurende skool-opening, praatjies, spreekwoord-kompetisies, tekenwedstryde, en wat kreatiewe onderwysers ook al kan bedink. Daar word ook ‘n kleur gekoppel aan elke waarde, sodat almal iets van daardie kleur op Vrydae, tydens daardie maand, sal dra as uitbeelding van ons identifikasie daarmee.
Op die foto links, wat die waarde oor geloofuitbeeld, is die Graad 12 leerders van 2018.